Terug na "meer oor die drie broers"

Meer oor Sake van der Wal (04/12/1864 - 20/09/1942)

Sake van der Wal, die jongste broer was nooit getroud soos sy twee ander broers nie. Hy het 'n winkel op Doornhoek besit en was 'n kunstenaar. Sake het aan die einde van 1898 in Suid-Afrika aangekom met die Duitseboot "Herzog". Die bootreis vanaf Holland na sy eindbestemming in Afrika het ongeveer 40 dae geduur langs die ooskus van Afrika. Sake beskryf plekke soos Lisabon, Napels, Portsaid. die Suezkanaal, Aden, die piramiedes in die verte waarlangs die boot gevaar het. Dar es Salaam is ook een van die mooiste ooskus-hawes wat hy op sy reis teen gekom het. In Afrika aangekom sit hy voet aan wal op Delagoabaai (Maputo). Daarvandaan reis hy per nagtrein tot in Machadodorp. Op Machadodorp neem hy 'n koets tot in Lydenburg waar hy verneem dat Willem alreeds 'n week op hom gewag het. Willem het toe reeds weer vertrek.

Gedurende die periode tussen sy aankoms in die Z.A.R. en die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, bestuur hy 'n winkel wat hoofsaaklik meel, koffie, suiker en seep verkoop. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog probeer hy die winkel aan die gang hou, en selfs op 'n stadium gee hy vir die kinders van die omgewing skool, maar dit hou net vir twee maande. Toestande het dramaties begin versleg soos die Boere (blankes) in die omgewing begin pad gee het voor die aankomende Engelse mag. Meeste van die mans word opgekommandeer vir die oorlog, en die vroue en kinders vertrek na veiliger plekke soos Lydenburg.

Met die aankoms van die eerste Engelse soldate in die omgewing, en 'n uitval met die eienaar van die winkel, wat hom bevraagteken oor sy neutraliteit omdat sy twee broers teen hulle veg, asook die 400 sakke mielies wat deur die Z.A.R regering opgekommandeer is uit sy winkel voorraad, breek die einde vir Sake aan as bestuurder van die winkel. Sake word betaal vir tien maande se werk in papier geld (blue bucks) wat op daardie stadium toe nikswerd was. Sake word gelas as 'n "prisoner of war" om op 'n wa te klim wat 'n paar ou mans, vrouens en kinders afvoer na "veiliger" plekke toe. Daar was nie eers plek vir sy persoonlike besittings op die wa nie.

Op Lydenburg aangekom verneem hy dat sy twee broers, Willem en Jan  gevange geneem is op hulle plaas in die bosveld en dat hulle Bermuda toe gestuur word. Hy beland self in die konsentrasiekamp op Middelburg teen sy wil. Alhoewel hy meer vryhede gehad het as van die ander krygsgevangenisse, soos om "duimpas" te ontvang (soos 'n bandiet) om inkopies in die dorp te kon doen, was die lewe nogtans ondraaglik. Hy beskryf die benarde toestande in die konsentrasie kamp, die min kos en min voorrade soos medisyne, ens. asook die jong kinders en vrouens wat sterf. Hy help selfs om van die doodskiste op die waens te laai onderweg na die begraafplaas. Hy verneem ook per brief dat sy skoonsuster Sarie in Baberton se konsentrasie kamp aangehou word, en dat twee van haar kinders al reeds gesterf het. Na drie maande in die kamp slaag hy daarin (versoek per brief) om oorgeplaas te word na Belfast se konsentrasie kamp. Nog 'n rede was om aansoek te doen sodat sy skoonsuster ook oorgeplaas kon word na Belfast se kamp. Toestande daar was beter en minder sterftes het in hierdie kamp voorgekom. Dit was toegeskryf aan 'n simpatieke Skotse dokter (Dr. Savage) wat moeite gedoen het om na sy pasiënte om te sien.

Toenemende voorvalle rondom Belfast en in die konsentrasie kamp het die lewe van die gevangenisse ernstig begin bedreig, en daar is besluit om van die gevangenisse oor te plaas na Natal. Per trein word hulle via Middelburg, Pretoria na Meerbankkamp en Jacobs in Natal vervoer en dis hier waar Sake gebly tot en met die einde van die Anglo-Boereoorlog. Voor hulle vertrek terug huis toe, maak Sake 'n draai in Durban, vir 'n kort vakansie.

Terug in die bosveld na die oorlog, begin hy met sy eie winkel wat hy vir 'n lang tyd self bedryf het tot en kort voor sy afsterwe. Sake is in die familiebegraafplaas te Doornhoek begrawe.

Gelukkig kon Sake 'n erfenis van skilderye nalaat, en sy liefde vir seilskepe wys duidelik in sy skilderwerke. Daar word ook aangeneem dat die 'ander' houtbootjie deur Sake gemaak is, soortgelyk aan die een wat deur Jan gemaak is, en nou in die Lydenburg museum vertoon word. (sien foto - meer oor Jan van der Wal)

(bogenoemde verhaal van Sake van der Wal is bekom uit 'n 19 bladsy oorgetikte dokument waarvan die oorspronklike handgeskrewe dokument deur Sake self geskryf was, wat nou in Salie van der Wal se besit is. Die opskrif van hierdie dokument heet: HERRINGERINGE UIT DIE BOER OORLOG VAN 'N ROU HOLLANDER).

Meer oor Sake (vervolg - bl.2):  (sien skildery & houtbootjie)

Terug na vorige bladsy