Terug na tuisbladsy

      Sien foto's!!!

VAN DER WAL REÜNIE GEHOU OP 24 & 25 SEPTEMBER 2005 TE OHRIGSTAD

Nog 'n VAN DER WAL reünie agter die rug, en ons sien al uit na die volgende een! Die weer het mooi saamgespeel, tradisionele Ohrigstad Laeveld weer, lekker warm en geen wind.

 Ons het die oggend van die reünie om 09:30 daar aangekom om die rekenaar solank op te stel vir die inligting en foto’s wat moontlik saamgebring gaan word deur die verskeie familielede soos versoek is.

 Stadig maar seker het die een na die ander opdaag. Die bekende gesigte wat met elke reünie daar is, van die mense vir die eerste keer en dan die wat lanklaas van hulle laat hoor het. Tannie Saartjie van Ohrigstad (voorheen van Lekkerhoek) het 'n paar "uitkennings" op ou historiese foto's gedoen, en selfs 'n paar ou foto’s saamgebring.

Van vroeg af is die vure aangesteek vir die verskeie potjiekosse wat die aand gehou was, en 'n paar honger mae wat nie kon wag vir die die aand se potjiekos disse nie, het 'n vleisie op die kole gehad vir middagete.

 Teen twee uur was die meeste van die mense al daar. Daar is onder die afdak en vure langs die saal gekuier, gesels, gesing en gelag. Oom Koi met sy trekklavier, André met sy kitaar, en Oom Salie met die vokale begeleiding. Dit was ’n feestelike atmosfeer wat lank onthou sal word, en vir die wat nie daar was nie, julle het definitief  weereens iets besonders gemis...

Heelwat foto’s is geneem wat binnekort op die webwerf sal verskyn, onlangse foto’s, is in “ge-scan” op rekenaar waarvan sommige alreeds onder die VAN DER WAL FOTO album verskyn op hierdie webwerf.

Die aand se verrigtinge het begin met verskeie lekker potjiekos disse, stampmielies, rys, slaaie, broodjies, ens. Daarna is daar saal toe beweeg  vir die Cantus aanbieding. Na die Cantus is bedankings gedoen, musiek gemaak en is daar tot laat toe lekker gedans.

Weereens wil ek een persoon en sy gesin uitsonder vir die reëlings by die saal, Buks en Magda van der Wal, weereens baie dankie vir al julle moeite en opoffering. Santie Gildenhuys van Oom Salie wat die Boeresport en skattejag vir die kinders die oggend gereël het, en het die kinders dit geniet! André wat die Cantus en die draft-bier gereël het vir die aand se verrigting. Wat 'n belewenis en 'n genotvolle ervaring om hierdie tradisie mee te maak! ietwat onbekende tradisie in Suid-Afrika, maar baie gewild oorsee soos in Duitsland. Mense het spesiaal van Pretoria afgekom om hierdie verrigting te lei. Marnus wat die seremonie meester en Cantus sedemeester was het hom goed van sy taak gekwyt (met sy militêre presiesheid en agtergrond). Ons almal waardeer dit opreg! Laaste, maar nie die minste nie, my vrou Lettie wat my gehelp het om die foto's te hanteer, inligting te laat invul op vooropgestelde vorms, om geboorte datums, name, kontak besonderhede, ens. te kry van familie wat se inligting nog nie in die databasis verskyn nie, of waarvan die inligting nie korrek of volledig is nie.

Sondag oggend om 10-uur is almal weg om die verskeie familie begraafplase te gaan besoek, Doornhoek, Höningnestkrans, Waterhof, ens. onderleiding van Marnus en Buks.

Die volgende reünie sal weer binne twee of drie jaar gehou word.

Addisionele inligting:

 As u teen hierdie tyd nog nie bewus is van die VAN DER WAL webwerf nie, wil ek u ‘n bietjie meer inlig omtrent hierdie bron van inligting. Ongelukkig het almal nie toegang tot die Internet nie, maar deesdae is dit die mees gevorderde tegnologiese bron om inligting te bekom, vinnige, maklik en boonop het jy letterlik toegang tot die hele wêreld se inligtingsbronne.

 Daar is sowat twee jaar gelede met die VAN DER WAL webwerf op die Internet begin, waar die familie geskiedenis, gebeurtenisse, foto’s, ens.  gedokumenteer word, sodat ons generasie en ons nageslagte vrylik toegang tot hierdie inligting kan hê.

 Redelik baie is intussen vermag in die laaste twee jaar, maar ongelukkig ontbreek daar nog baie inligting omtrent ons oupas en oumas en hulle voorgeslagte. Soos familielede afsterwe, gaan daar baie waardevolle inligting verlore.

 Ek doen ‘n beroep op almal om hulle verhale, stories en gebeurtenisse omtrent ons VAN DER WAL voorgeslagte te dokumenteer, of iemand vra om dit namens u te doen, asook ou geskiedkundige foto’s vir my aan te stuur. Van hierdie inligting en foto’s sal dan bygewerk word op die VAN DER WAL webwerf. Moontlik kan dit later in ‘n boekvorm uitgegee word as die belangstelling groot genoeg is.

  Die VAN DER WAL webwerf adresse op die Internet is:

 http://www.vanderwal.co.za   of  http://www.vanderwal.za.cx

 Alternatief kan u dit ook aan die volgende posbus adres stuur:

 VAN DER WAL GENEALOGIE

Posbus 11786

Aerorand

Middelburg

Mpumalanga

1070

 Dankie byvoorbaat.

 J.F. van der Wal

Telefoon (19h00 - 22h00):  013 244 1205   /   082 690 4416

Terug na tuisbladsy