Meer oor Koba Lothering (12/09/1892 - 04/12/1970)

Koba is op 'n baie jong leeftyd tyd onder die vlek van Willem Ruurd en Sarie geneem. Sy is as te ware deur hulle aangeneem, wat die redes daarvoor was is op hierdie stadium nog nie bekend nie. Vermoedelik in die tydperk toe Willem op Krugerspost skool gegee het, het Koba al by hulle inwoon.
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog word Koba op 'n baie jong ouderdom saam met Sarie en haar kinders gevangene geneem op Doornhoek. Terwyl hulle afgevoer word na die Baberton se konsentrasie kamp, gebeur daar 'n voorval by die brug net voordat Lydenburg (vanaf Ohrigstad) ingegaan word, wat Koba lank bygebly het en waaroor sy baie oor gepraat het. 'n Melkkoei wat spesiaal aangehou was vir melk om een van Sarie se kinders (baba) aan die lewe te hou, word summier by hulle afgevat en dood geskiet deur een van die 'joiners' wat diens gedoen het by die blokkade duskant die brug. Hierdie voorval het daarnatoe aanleiding gegee dat die kind later in die konsentrasie kamp in Baberton oorlede is weens wanvoeding. Die persoon wat betrokke was by die afneem van die melkkoei was 'n bekende uit die omgewing waarna 'n bekende bergpas in die omgewing na hom vernoem is. Koba-hulle word op 'n stadium in die Balmoral se konsentrasie kamp ook aangehou voordat hulle vrygelaat word na die oorlog. Terug na die oorlog het die lewe weer voortgegaan op Doornhoek. En dit is hier waar sy vir Jan van der Wal ontmoet het en later in die huwelik met hom verbinding getree het.
Koba en vermoedelik die grootmoeder van Nederland, afgeneem op Doornhoek
Koba bring haar hele lewe deur op die plaas Höningnestkrans saam met haar eggenoot en kinders. Na Jan se afsterwe in 1935, hou sy 'n suksesvolle boerdery aan die gang ten spyte van droogte en plae wat alom eie is aan die omgewing. Later van tyd tree sy weer in die huwelik met Cornelius Andries Oosthuizen, maar hierdie huwelik was van korte duur.

Koba en Cornelius Oosthuizen, met van haar kinders, Jan, Rika en Sake afgeneem op Höningnestkrans
Met afloop van die jare het net Koba en haar dogter Rika later agtergebly op Höningnestkrans. Rika het deurentyd na haar moeder omgesien en versorg tot en met haar afsterwe in 1970. Koba is op Höningnestkrans in die familie begraafplaas langs Jan te ruste gelê. Rika het na haar ma se afsterwe na Witbank verhuis waar sy by haar ouer suster Lena ingewoon het tot en met haar dood.
'n Jaar voor Koba se afsterwe. Die foto is geneem voor die plaashuis, op Höningnestkrans (1969).
Agter: Koba en haar dogter Rika, voor v.l.n.r. is van Koba se kleinkinders: Christine, Norman, Friso en Marnus.
(Jan en Sake se kinders)
Met die afsterwe van Koba, het Sake (jongste lid van die familie) die plaas geërf, en na Sake se aftrede het hy weer op Höningnestkrans kom woon, en nog steeds woon.