Terug na tuisbladsy

Huldeblyk aan LIZA MINNE (néé VAN DER WAL)

(18/04/1960 – 17/04/2010)

 

 

Liza, of te wel Elisabeth Susanna van der Wal is gebore in die Lydenburgse Hospitaal op 18 April 1960. Sy is die eersteling van Sake en Kathleen van der Wal. Liza is vernoem na haar ouma Baker (ma se kant), en van kleins af word sy Liza genoem. Die grootste deel van Lize se kleintyd en opgroei bring sy deur op die familie plaas Honingnestkrans te Ohrigstad waar sy haar groot liefde ontwikkel het vir die natuur en jag.

Sy begin haar skool loopbaan te Ohrigstad Laerskool in 1966 tot en met standaard 3. Daarna verhuis die familie na Burgersfort waar haar vader Sake van der Wal op die myn begin werk het. Hier gaan sy skool in die Burgersfort Laerskool tot en met standard 5 (1973), en elke jaar was sy ook die top akademiese leerling in haar standard.

Haar hoërskool loopbaan le sy af in die Lydenburg se Hoërskool (1974 – 1978). Sy dien ook op die leerlingraad in haar matriek jaar. Dit is ook hier waar sy haar Kuns talent begin ontwikkel het onder die leiding van Mnr. Johan van der Watt.

Met die voorneme om verder te gaan swot, begin Liza studeer in grafiese kuns aan die Pretoria se Tegniese Kollege. Sy behaal haar diploma in 1981. Sy volg haar diploma op met verdere studies.

Na haar studies vestig sy haar permanent in Pretoria en begin werk by die Poskantoor se Filatelie dienste. Met haar besonderse talent in kuns verskyn daar ʼn reeks RSA posseëls onder haar naam, en was ook betrokke by ander hoe profiel ontwerpe. Voor die 1994 verkiesing het Liza ook gewerk aan ʼn reeks gedenkseëls wat aan Nelson Mandela opgedra is.

In 1983 beland Liza baie ernstig siek in die hospitaal se intensiewesorgeenheid vir ʼn lang periode waar die dokters nie kon vasstel wat die probleem was nie.  Die nagevolge van hierdie insident veroorsaak dat sy ʼn diabeet word, wat haar liggaamlik aftakel oor ʼn lang tydperk, en sodoende ʼn stryd voer teen hierdie siekte tot en met haar dood.

Op 25 April 2009 tree sy in die huwelik met Andre Minne, vir wie sy al vir jare ken.  Hulle het die hele wêreld deur gereis en verken met jag ekspedisies en oorsee se toere. Liza was ʼn uitmuntende skut onder die vaandel van SAJWV, en een van Suid-Afrika se beste vroueskuts, en in die jaggebied ook een van die beste wild jagters in die vroue afdeling.

Liza het die afgelope twee jaar in ʼn Jagterswinkel gewerk, waar sy ook as ʼn aktiewe lid betrokke was by die bestuur van Pretoria-Oos se SAJWV tak, waar sy die portefeulje skietsake betree het.

Op Saterdagaand die 17de April 2010 sterf Liza, ʼn dag voor haar 50ste verjaarsdag in die Zuid-Afrikaanse Hospitaal weens komplikasies wat veroorsaak is deur die jarelange stryd teen diabetes.

Sy is vanuit die NG Kerk Magalieskruin, Braam Pretoriusstraat, Pretoria te ruste gele, en ter aarde bestel in die Heatherdale Begraafplaas op 18 April 2010. Liza het nooit kinders van haar eie gehad nie.

meer foto's